Wie is werklik reg, wat is regverdig in die stryd om oorlewing?
Karel Fechter, parkhoof van Etosha, weet goed sy dae is getel. Hy staan
in die pad van die regering se planne vir ontwikkeling en vooruitgang.
Met sy Anti-Poaching Unit (APU) probeer hy sy geliefde park beskerm,
onbewus oor hóé die groep oudsoldate sy opdragte uitvoer.
Justus Tjambiro is ‘n Himba-hoofman se seun, die slim kind wat in die
stad gaan leer het sodat hy eendag sy mense kan lei. Wanneer sy pa
tydens ’n onwettige jagtog in Etosha verdwyn, neem Justus hom voor om
hom te wreek op die verantwoordelikes: die APU’s en hul hoof, Karel
Fechter.
‘n Nuwe hoogtepunt vir van Rooyen se oeuvre
By die bekendstelling van Etosha ‘n Roman op 27 Mei in Windhoek het
André du Pisani, professor in filosofie en politieke studies aan die
Universiteit van Namibië, die boek as volg opgesom:
Met Etosha kyk die bekroonde skrywer Piet van Rooyen diep agter die
mopaniegordyn en demonstreer, beter as in enige van sy vorige romans,
hoe die roman die politiek in die postkolonie toeganklik kan maak.
Die roman het veel dieper morele en etiese ondertone wat vir die
integriteit van die teks en die leser van groot belang is. Dit is die
skryf self wat die leser moet oortuig aldan nie; nie die toevallighede
wat die hoofkarakters passievol by mekaar laat uitkom nie; en hierin
slaag die roman met oortuiging.
Die stryd tussen ‘kultuur en natuur’ speel onverbiddelik af teen die
morsige nalatenskap pas ná die bosoorlog wat op simboliese wyse die
politiek van postkolonialisme gevorm het. In die wrang woorde van Karel
Fechter, parkhoof van Etosha: “Daar is nie meer ontkomkans nie. Daar is
’n ander wet wat nou geld, die oudste wet van almal: die wet van die
natuur, die wet van roofdier en prooi, dat die sterkste altyd wen.”
Van Rooyen slaag oortuigend daarin om die mentaliteite wat deur beide
die apartheidbedeling en die vryheidstryd gevorm is, fiksioneel weer te
gee. So byvoorbeeld leef die kleindorpse burgerlikheid en diepliggende
rassisme voort in Fechter en die toegeëiende geregtigheid van Mentoor,
die nuut aangestelde hoof van werke in die park.
Die roman gaan oor veel meer as die nalatenskap van die ou
apartheidsbedeling en die teenstrydighede van postkolonialisme; dit
gaan oor die omgewings- en menslike etiek wat die mensdom nodig het om
moederaarde en Etosha as simbool van ’n ouer Afrika, in al sy veelvoud,
vir toekomstige geslagte te bewaar.
By die lees van hierdie werk pak ’n bewussyn van plek, betrokkenheid,
respek en verantwoordelikheid mens beet. In die woorde van die skrywer
met verwysing na Karel Fechter, “Daar is nie ’n ander plek om heen te
gaan nie. Hy is hier gebore. Hierdie land het hom beet. Hier bly hy vir
altyd, al moet hy ook hier ondergaan.”
About the author
Piet van Rooyen, who has a PhD in Development Studies from the University of Stellenbosch, is currently professor in Political and Administrative Studies at the Faculty of Economics and Management Science at the University of Namibia. He has written several academic and popular books and articles with a Namibian content, and is an established author of Afrikaans literary fiction, with several literary awards to his name. His passions are nature conservation, wildlife and the environment. He is a keen sportsman who has represented Namibia in spear fishing and endurance riding.